Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 15 NOVEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

AFRIKA WORD VERTEENWOORDIG BY DIE WRTC-2010

NOG ’n OPTIESE KOMMUNIKASIEREKORD IN AUSTRALIË

SARL-HF-VELDDAG VOLGENDE NAWEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

EA8CAC EN EA8DP SAL AFRIKA BY DIE WRTC VERTEENWOORDIG

Twee radioamateurs van die Kanariese eilande sal Afrika by die 2010 Wêreldradiosportspankampioenskap (die WRTC) verteenwoordig. Die WRTC is die belangrikste amateurradiokompetisie van 2010. Die spanleier is ’n bekende DX-er, Juan J Hidalgo van Las Palmas.
Die WRTC-2010 sal van 8 - 12 Julie naby die Russiese hoofstad, Moskou, gehou word. 50 spanne van regoor die wêreld sal onder dieselfde toestande teen mekaar meeding. Die Russiese Nasionale Amateurradiovereniging is die gasheer vir die WRTC.
In 2006, tydens die WRTC wat in Brasilië gehou is, is Afrika deur Bernie van der Walt, ZS4TX, verteenwoordig. Sy spanmaat was N2IC. Hulle het die 26e plek behaal.

NOG ’n OPTIESE KOMMUNIKASIEREKORD IN AUSTRALIË

’n Nuwe nie-lyn-van-sig optiese kommunikasierekord van 288 km is in Australië opgestel met ’n eenrigtinguitsending tussen twee radioamateurs deur middel van ligstraaldiodes (LED’s).
Op die aand van 27 Oktober het Rex Moncur, VK7MO, en Joe Gelston,VK7JG, bygestaan deur Paul Godden, VK7KPG, ’n nuwe eenrigting nie-lyn-van-sig optiese rekord van 288 km oor Australië se Bass-straat opgestel. Hulle het daarin geslaag deur middel van rooiligweerkaatsing teen die wolke.
VK7MO was op Mount Liptrap in Suid-Gippsland en het op sy APD-gebaseerde ontvanger geluister, terwyl VK7JG en VK7KPG vanaf Mount Horror in die noordweste met ’n 3 watt Luxeon LED-sender uitgesaai het. Die seine is vanaf Mount Horror teen hoë sirruswolke, op ongeveer 6 080 m, gereflekteer.
Aan die ontvangkant is die seine vanaf Mount Horror gedekodeer deur VK7MO, wat gebruik gemaak het van ’n nuwe program, die “Weak Signal Communicator”. “Weak Signal Communicator” is die nuwe ontwerp van die Spectrum Lab Audio-analiseringspakket, wat onlangs deur David Smith, VK3HZ, ontwerp is.

Die eksperimenteerders het die WSJT-dekoderingsprogram gebruik, wat ’n paar jaar gelede deur Joe Taylor, K1JT, ontwikkel is. Die sinkronisasiesein is teen -30 dB ontvang, maar daar was ongelukkig geen dekodering nie.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom die volgende nuwe lede: Jarrad Brown, Conrad Buitendag, Petrus Jacobus Delport, Noel Hammond, Edwin Isted, André Le Roux, Louis Le Roux, Du Plessis Naudè, Jacomina Elizabeth Nortman, Daniel Rueppel, Rohan Schreuder en Anna Christina van der Heever. Hulle het almal die onlangse RAE geslaag en wag op hulle roepseine. Welkom en baie geluk.

Ons verwelkom ook graag: TJ Greyling, ZR1ROM; Francois Moller, ZS3F; M Sowden, ZR5CAR; Johan Sevenster, ZS1A; Louis Botha, ZSL641; Don Bryant, ZS6BTP; en Hughie Young, ZS1YS.

Die lidmaatskap staan tans amper by die 1 300-merk. As u verlede jaar ’n lid was en nog nie u lidmaatskap hernu het nie, doen dit asseblief spoedig. Kontak Mariska by 011 675 2393 vir meer besonderhede.

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Nominasies vir SARL-raadslede sluit op 30 November. Om ’n persoon te nomineer, stuur asseblief ’n kort amateurverwante CV van die persoon wat u nomineer. Kry asseblief ’n sekondant vir u nominasie en vra die genomineerde om ’n verklaring te onderteken waarin hy of sy aandui dat hulle bereid is om op die raad te dien, indien hulle verkies sou word.

BACAR-TOETS

BACAR sal op Saterdag 21 November so van 13:30 af gedemonstreer word terwyl dit aan 'n kabel geheg is. Daar sal lewendige dekking op die SA AMSAT se webwerf wees. Vir meer besonderhede besoek www.amsatsa.org.za

GESINSLIDMAATSKAP VERDUIDELIK

Die SARL het ’n gesinslidmaatskapkategorie. Gesinslidmaatskap behels dat daar een gewone lid in die gesin moet wees voordat ander lede van die gesin kwalifiseer. Gesinslidmaatskap is beperk tot ‘n eggenoot of kinders onder 25 wat by dieselfde adres woon. Gesinslede ontvang nie Radio ZS nie, maar het toegang tot die webweergawe.

SARL-HF-VELDDAG VOLGENDE NAWEEK

Die tweede been van die SARL-HF-velddag word oor die naweek van 21 en 22 November gehou met foon- en GG-aktiwiteit op 10 tot 160 meter. Die velddag begin om 12:00 SAT op Saterdag en eindig 24 uur later. Stasies kan deelneem as 'n enkel-of multi-operateurveldstasie, of as 'n algemene stasie. Meer besonderhede is beskikbaar in die 2009 SARL-kompetisiehandboek.

Die Overberg Amateurradioklub, ZS1OAR, gaan ’n veldstasie in die Marloth Natuurreservaat by Swellendam tydens die velddagnaweek bedryf. Besoekers en operateurs is baie welkom. Kontak André, ZS1AZ, by 028 514 2018 of Sam, ZS1OR, by 028 316 1470 vir meer inligting.
Die volgende radioklubs en -amateurs het aangedui dat hulle op die lug sal wees tydens die velddag: Sandton; Sasolburg; Pretoria; Highway en Midlands; Wesrand; Suid-Kaap, Robbie, ZS1RAP, en Johan, ZR5JF. Daar is nog net ’n week om u klub te aktiveer.

KOMPETISIENUUS

PEARS HF-kompetisie.
Die jaarlikse PEARS HF-kompetisie vind plaas op Sondag 6 Desember vanaf 14:00 tot 18:00 SAT op 40 en 80 meter.

SARL BHF/UHF-kompetisie.
Die kompetisiekomitee het die uitslae van die tweede been van die SARL BHF/UHF- (analoog) kompetisie bekend gemaak. Die komitee is besorg oor die min logstate wat ontvang is.

Multi-operateur stasie:
1e Magalies Radioamateurklub, ZS6MRK, met 20 573 punte; en
2e John Vorster Tegniese Hoërskool Radioklub, ZS6JVT, 4 222 punte.

Enkeloperateurstasie:
1e Johan van Aarde, ZS2I, met 4 702 punte;
2e Tienie Herbst, ZS6MHH, 4 079;
3e Carl Minne, ZS6CBQ, 3 449; en
4e Bert Howes, ZS6HS, 220 punte.

Die gekombineerde uitslae van die Maart- en Septemberskofte van die SARL-BHF/UHF- (analoog) kompetisie is soos volg:

Multi-operateur stasie:
1e Magalies Radioamateurklub, ZS6MRK, met 41 650 punte;
2e John Vorster Tegniese Hoërskool Radioklub, ZS6JVT, 8 961 punte.

Enkeloperateurstasie:
1e Johan van Aarde, ZS2I, met 7 513 punte;
2e Tienie Herbst, ZS6MHH, 5 364;
3e Carl Minnie, ZS6CBQ, 3 449;
4e Marius Preston, ZS4MP, 2 008;
5e Bert Howes, ZS6HS, 633; en
6e Theunis Potgieter, ZS2EC, 165 punte.

SARL 80 meter-QSO-geselligheid:
Die kompetisiekomitee het SARL-nuus verwittig dat die Sasolburg Amateurradioklub nie aan die QSO-geselligheid deelgeneem het nie. Die 4e plek, soos verlede week aangekondig, behoort aan Marius Preston, ZS4MP, ’n lid van die Sasolburg Amateurradioklub. Die kompetisiekomitee vra verskoning vir die fout.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Gelukkig het drie sonvlekke gedurende die week verskyn, alhoewel hulle later uit die gesigsveld geroteer het.
20- en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Indië en Brasilië goed wees. Gedurende laatmiddag en aand gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Nieu-Seeland en Australië gaan uitdagend wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m begin weer om van sy aansien herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 November – sluitingsdatum vir 2010-kompetisievoorstelle;
21 en 22 November – SARL HF-velddag;
21 November – Tuiskonstruksiekursus en BACAR-demonstrasie by die NARS;
22 November – Integnet met SumbandilaSat as tema;
30 November – sluitingsdatum vir die opstelkompetisie en sluitingsdatum vir nominasies vir die SARL-Raad;
6 Desember – PEARS HF-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n ‘Podcast’-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ‘ARMI’ en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die redakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003